Gebak

Basiese vanielje kolwyntjie

Van waar daardie lekker kolwyntjies – of sommer cupcakes? Dit word letterlik van geslag tot geslag gemaak – byna 200 jaar al! Want ‘n resep vir dié staatmaker-lekkerte verskyn die
eerste keer in ‘n resepteboek uit 1828, Receipts for Pastry, Cakes and Sweetmeats deur ene Eliza Leslie. Destyds was daar nie iets soos kolwyntjiepanne nie, maar dit het Eliza en ander bakkers nie afgeskrik nie. Bakkers maak ‘n plan! Hulle het eenvoudig klein koekies en brode in koppies en klein bakkies gebak. Dis dan mooi versier, met groot aandag aan detail. Later het dit ook bekend geraak as feetjie-koekies, bloot omdat dit so deftig en klein was. Deesdae vind ons om elke hoek en draai dieselfde deftige koekies, dikwels besonder fênsie versier. Maar wat is dit wat kolwyntjies so gewild maak? Die antwoord lê beslis in hul grootte. Dis klein genoeg om op jou eie te eet, maar groot genoeg om jou lus na ‘n soetdingetjie te bevredig. Dis ‘n emosionele ding: Hierdie kolwyntjie is net myne, dit pas in my hand en ek hoef dit met niemand te deel nie! Dis jou eie klein geskenk aan jouself. Kolwyntjies is eenvoudig genoeg om te eet saam met tee, interessant genoeg vir kinderpartytjies én gesofistikeerd genoeg vir troues. Wat meer wil jy hê? As jy eers die basiese kolwyntjieresep het, kan jy enige soetgoed bysit en verskeie variasies optower.

(12 kolwyntjies)

  • 3 eiers
  • 175 g (210 ml) strooisuiker
  • 175 g (315 ml) bruismeel
  • 175 g (190 ml) botter teen kamertemperatuur
  • 5 ml vanieljegeursel

Verhit oond tot 180 °C. Voer kolwyntjiepannetjies uit met papierbakkies en spuit met kleefwerende sproei. Plaas al die bestanddele in die mengbak van ‘n elektriese menger en klits vir 3 – 4 minute. Verdeel mengsel tussen bakkies en plaas in warm oond. Bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin en ‘n toetspen skoon uitkom. Haal uit en laat afkoel voor jy die kolwyntjies versier.

Basiese vanieljeversiersel

(vir 12 kolwyntjies)

  • 500 g (545 ml) sagte botter
  • 650 g (1 250 ml) versiersuiker, gesif
  • 10 ml vanieljegeursel

Plaas botter in elektriese menger se bak en klits tot lig en romerig, sowat 5 – 8 minute. Voeg versiersuiker en geursel by. Meng goed. Versier afgekoelde kolwyntjies hiermee.

  • Freda Prinsloo

    Hallo,

    Ek bak my kolwyntjies ook vir 15 na 20 minute op 180. My kolwyntjies verpak ek in ‘n lugdigte houer. Die volgende dag voel die kolwyntjie bo-op smerig asof rou. Hoekom gebeur dit.

    Groete

    Freda Prinsloo

  • petro nel

    Hi daar, ek het dieselfde oorgekom maar uitgevind as jy dit oornag wil bere moet dit nie heeltemal in lugdigte houer toe hou nie los die deksel effens skeef op sodat daar effe lug kan deur sirkileer. Hoop jy is tevrede daarna. Lekker bak