Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Gebak

Beesstertpastei

Beesstert is nogal ryk. Probeer groot stukke beesstert kry, want dit het die meeste vleis aan. Die stukke moet verkieslik ook nie te vetterig wees nie.
(genoeg vir 6 – 8)

  • 1,5 kg beesstert
  • koekmeel om vleis in te bedek
  • 40 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 wortels, in klein blokkies gesny
  • 1 groot selderystingel, in klein blokkies gesny
  • 1 x 400 g-blik gekapte tamaties
  • 500 ml rooiwyn
  • 250 ml kookwater
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 lourierblare
  • 1 pak (800 g) vierkantige velle blaardeeg (4 velle van 200 g elk)
  • 1 eier, geklits
  • 1 rol (400 g) blaardeeg

Verhit oond tot 180 °C. Rol die beesstertstukke in meel. Skud oortollige meel af. Verhit olyfolie in groot kastrol. Braai die vleisstukke tot bruin – nie almal op een slag. Hou vleis eenkant. Braai ui, knoffel, wortels en seldery in dieselfde kastrol tot sag. Plaas vleisstukke terug in kastrol. Voeg tamaties, rooiwyn en kookwater by. Geur met sout en peper en voeg lourierblare by. Roer deur. Maak kastrol toe met deksel en oondbraai vleismengsel vir 3 uur. Maak net seker die vloeistof kook nie weg nie – voeg nog water by as dit wel gebeur. Haal uit oond en laat heeltemal koud word – verkieslik oornag in die yskas. Verhit oond tot 200 °C. Wanneer die vleismengsel koud is, verwyder jy al die bene en die oortollige vet wat bo-op gestol het. Maak vleis fyn. Gebruik twee van die vierkantige velle en voer ’n 26 cm-losboom-tertbak uit. Maak seker van die deeg hang oor die rand van die bak. Skep vulsel in. Verf die deegrand met eier. Plaas nog ’n vierkantige vel bo-op en druk stewig vas aan die deegrand. Verf met geklitste eier bo-op. Maak ’n gaatjie in die middel van die pastei. Gebruik ’n oortollige stukkie deeg en vorm ’n lang strokie. Krul dit om die gaatjie. Gebruik die rol blaardeeg en druk sirkels van verskillende grootte met ’n koekiedrukker uit. Rangskik bo-op pastei en verf met geklitste eier. Plaas in warm oond en bak tussen 45 minute en 1 uur. Die deeg moet goudbruin en bros wees. Sit warm voor.

Wenk
Plaas die beesvleis-mengsel oornag in die yskas. Die volgende dag kan jy dan al die oortollige vet wat bo-op gestol het, maklik afskep. Dit sal sorg dat jou pastei nie so vetterig is nie.