Foto deur Mickey Hoyle SARIE KOS OKT/NOV 2013

Gebak

Beesvleis-en-ertjie-samoesas

Die meeste van ons se eerste samoesa het waarskynlik beesvleis ingehad. Ek sit baie speserye in my vulsel, want as die kerrie eers reg is, is die samoesa ook reg.
Vulsel genoeg vir sowat 40 – 50

• 2 aartappels, geskil
• 30 ml sonneblomolie
• 500 g beesmaalvleis
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 10 ml fyn komyn
• 10 ml fyn koljander
• 1,25 ml fyn kaneel
• 1,25 ml fyn gemmer
• 5 ml borrie
• 15 ml garam masala
• 2 tamaties, in blokkies gesny
• 30 ml suurlemoensap
• 250 ml kookwater
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 ml bevrore ertjies
• 1 pak samoesa-deeg

Plaas aartappels in ’n kastrol en bedek met water. Plaas op stoofplaat en bring tot kookpunt. Laat kook tot net sag en dreineer. Sny in klein blokkies en hou eenkant. Verhit olie in ’n diep pan. Gooi maalvleis in olie. Roer tot vleis los is en braai tot min pienk in vleis oorbly. Voeg ui en knoffel by en braai tot ui sag en deurskynend is. Voeg komyn, koljander, kaneel, gemmer, borrie en masala by. Meng goed en braai sowat 2 minute. Voeg tamaties, suurlemoensap en kookwater by. Geur met sout en peper en laat prut oop vir ½ uur. Voeg bevrore ertjies by en laat verder oop prut tot ertjies sag is. Laat heeltemal afkoel voor jy die samoesas vou en diepbraai