Gebak

Beet-potbrood

  • 4 middelslag bete, afgespoel
  • 650 g (1 160 ml) broodmeel
  • 650 g (1 160 ml) koekmeel
  • 330 g (515 ml) semolina
  • 15 ml sout
  • 30 ml suiker
  • 2 x 10 g-pakkies kitssuurdeeg
  • sowat 750 ml louwarm beetwater

Verhit oond tot 180 °C. Bedek afgespoelde bete met water in ‘n kastrol. Kook vir 1 uur of tot sag. Dreineer, maar hou die water en meet sowat 750 ml daarvan af. Dis dié water wat die brood so ‘n mooi pienk kleur gee. Vryf beet se vel af en plaas beet in voedselverwerker. Kap baie fyn. Meng broodmeel, koekmeel, semolina, sout, suiker en kitssuurdeeg in ‘n groot mengbak. Maak ‘n holte en voeg fyngekapte beet by. Voeg genoeg beetwater by om ‘n deeg te vorm. Keer uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en knie vir 10 minute. Plaas in ‘n bak wat met olie gesmeer is. Maak toe met kleefplastiek en laat rys vir 25 minute of tot dubbel die grootte. Knie deeg af en plaas in jou broodpanne of pot waarin jy die brood wil bak. Maak toe met kombuislap en laat weer rys tot byna dubbel. Sny met ‘n baie skerp mes ‘n blokpatroon bo-op die deeg. Plaas in warm oond en bak vir 1 uur en 30 minute (as jy een groot brood bak). Klop die brood bo-op – as jy ‘n hol geluid hoor, weet jy dis gaar. Keer uit op ‘n draadrak, besprinkel met koekmeel en laat afkoel.