FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Gebak

Beste Broodpoeding

Resep deur Jean le Roux

Broodpoeding met croissants, sjokolade en neute

8 – 10 porsies

• 4 – 6 croissants (hang af van die grootte)
• 4 eetlepels (60 ml) botter + ekstra vir smeer
• 3 koppies (750 ml) melk
• 1 koppie (250 ml) room
• 4 eiers
• ½ koppie (100 g) suiker

Verhit oond tot 180 °C. Smeer ’n vuurvaste plat bak mildelik met botter of margarien. sny croissants in skywe van 1 cm dik. pak in lae in gesmeerde bak. smelt botter en gooi melk en room by. Klits eiers tot lig en romerig en voeg suiker by. Klits deeglik. Meng eiermengsel met melkmengsel. Gooi mengsel oor croissants. Laat staan vir ongeveer 1 uur sodat die melkmengsel in die croissants kan intrek. plaas in warm oond en bak vir 40 minute.

Bolaag
2 koppies (400 g) suiker
• 1 koppie (250 ml) botter
• 2 eiers
• 5 ml vanieljegeursel
• 1 koppie (100 g) pekanneute – gebreek met rolstok om kleiner stukkies te kry
• 1 koppie (250 ml) “choc chip”-sjokoladestukkies
• ½ koppie (125 ml) goue stroop

Klits eerste 4 bestanddele saam en smeer oor warm, gebakte poeding. strooi pekanneute oor en dan die “choc chip”-stukkies. Plaas terug in oond en bak nog 20 minute. Haal nagereg uit oond en drup goue stroop met ’n lepel in ’n dun straaltjie bo-oor. sit voor met vla, sjokolade- of  vanieljeroomys of room.

Jean vertel 
’n Paar jaar gelede het ek een aand na die program Maak ’n Las op kykNET gekyk. Ek het nie regtig belanggestel in die stories wat vertel is nie; meer in die kosmaak- gedeelte, waar wyle Andries Krogman so tussen die stories deur ’n ietsie te ete aanmekaargeslaan het. Een daarvan was brooden- botterpoeding. Ek het die resep afgeskryf en baie jare lank gebruik. In Februarie vanjaar was ek en my man, Willem, Namibië toe met vakansie om by al ons familie ’n draai te maak. Ons is onthaal soos net die Namibiërs kan, en by een so ’n geleentheid het Corrie Theron ’n heerlike gebakte croissant-poeding voorgesit. Terug by die huis wou ek graag my gesin met die poeding bederf, maar ek het nie die resep gehad nie. Ek onthou toe daar was croissants, neute, sjokoladestukkies en stroop bo-oor, maar die res is steeds ’n raaisel. Ten einde raad haal ek toe my staatmaker-broodpoedingresep van Maak ’n Las uit en kombineer die twee . . . en wat ’n wenner! Ek moes dit nou al twee keer maak in die kort tydjie dat ons terug is van Namibië. Die poeding is effens soeter as die Namibiese weergawe, maar dis heerlik. Ek glo dis die bolaagmengsel wat die verskil maak.