Foto deur Micky Hoyle

Foto deur Micky Hoyle

Gebak

Bier-en-varkvleispastei

Met die seisoensverandering hierdie tyd van die jaar is enige pastei lekker.

(6 – 8 porsies)

  • 1 kg varksteaks
  • 30 – 40 ml koekmeel
  • 40 ml olyfolie
  • 4 ontbeende varklies-repe, in blokke gesny
  • 10 klein uitjies
  • 2 selderystokke, in sowat 1cm skywe gesny
  • 2 wortels, in klein blokkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 bottel (340 ml) bier
  • 500 ml groenteaftreksel
  • 3 takkies vars tiemieblaartjies
  • 2 lourierblare
  • sout en varsgemaalde
  • swartpeper
  • 2 velle (400 g) blaardeeg
  • 1 geklitste eier

Verhit oond tot 180 ºC. Sny steaks in blokke van sowat 2 cm. Sit koekmeel in plastieksak en voeg vleis by. Skud sak tot vleis goed bedek is met meel. Haal uit en skud oortollige meel af. Verhit olyfolie in kastrol. Braai vleis – nie alles gelyk nie – tot net bruin. Haal uit en hou eenkant. Braai varkliesrepe tot bruin, haal uit en hou eenkant. In dieselfde kastrol, braai uitjies, seldery, wortels en knoffel tot sag. Voeg vleis by en al die sappe wat uitgeloop het. Voeg bier, aftreksel, tiemie en lourierblare by. Geur met sout en peper. Maak toe met deksel en plaas in oond vir sowat 1½ uur tot vleis sag is. As die vloeistof te min raak, kan jy nog aftreksel byvoeg – ’n pastei moet ’n lekker sous hê. Haal uit en skep in pasteibak van sowat 30 x 15 cm en laat afkoel voor jy die deeg bo-op plaas. Sny vier lang stroke van sowat 3 cm breed uit die een vel blaardeeg. Plaas bo-op vulsel om die buitenste rand van die bak. Verf stroke met geklitste eier. Plaas die tweede vel blaardeeg bo-op. Verf met geklitste eier. Gebruik die orige deeg van die eerste vel om deeg bo-op te versier. Plaas in oond en bak vir sowat 40 – 45 minute tot deeg gaar, bros en goudbruin is.