Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Bosbessie-pankoek

(LEWER 16 BLOKKIES)
PORSIEGROOTTE: 1 BLOKKIE ± 200 g

  • 150 ml (75 g) koekmeelblom
  • 10 ml bakpoeier
  • 1,25 ml sout
  • 2,5 ml fyn kaneel
  • 150 ml (80 g) volkoringmeel
  • 100 ml (70 g) hawersemels (“oat bran”)
  • 75 ml (60 g) witsuiker
  • 125 g droë bosbessies (cranberries)
  • 1 groot eier, geskei
  • 1 groot eierwit
  • 200 ml karringmelk
  • 25 ml suiwer heuning
  • 30 ml sonneblom- of makadamianeut-olie
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 200 g gerasperde appel
  • 25 g amandelvlokkies (flaked almonds)
  • 10 ml witsuiker vir bo-oor
  • 1,25 ml fyn kaneel
  • 100 ml (50 g) versiersuiker
  • 5 ml vars suurlemoensap
  • 5 – 10 ml koue water
  1. Voer ’n 22 x 22 x 8 cmkoekpan oorkruis uit met bakpapier wat bokant die rand van pan uitsteek. Bespuit pan en papier met kleefwerende kossproei.
  2. Verhit oond tot 180 °C.
  3. Sif meel, bakpoeier, sout en kaneel saam en roer volkoringmeel, hawersemels, suiker en bosbessies by.
  4. Klits 2 eierwitte tot styf en hou eenkant. Klits eiergeel, karringmelk, heuning, olie en vanielje saam en roer gerasperde appel daarby. Voeg vloeistof by droë bestanddele, roer liggies tot net gemeng en vou eierwit in. Giet beslag in voorbereide koekpan en strooi amandelvlokkies oor deeg. Meng suiker en kaneel en strooi oor deeg.
  5. Bak vir 45 – 50 minute tot goudkleurig en gaar. Laat koek in pan afkoel.
  6. Meng versiersuiker, suurlemoensap en van die water tot ’n loperige versiersel. Drup versiersel in ’n dun straal oor koek sodat koek en amandelvlokkies nog plek-plek sigbaar is. Sny in blokkies sodra versierse hard is.

WENKE

  • Dis ’n lekker klam koek wat saam met koffie of ná ete as nagereg met of sonder vla geniet kan word. Onthou dat jy minder stysel by jou maaltyd moet insluit om vir die koolhidrate van die koek te vergoed.
  • Die amandels en olie dra by tot ’n gunstige hoeveelheid mono- en polionversadigde vetsure.
  • As die resep verdubbel word, is dit genoeg vir 1 gesmeerde oondpan.