Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS APR/MEI 2014

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APR/MEI 2014

Gebak

Botterskorsie-en-fetapastei

Die salie is ’n treffer saam met die fetakaas en botterskorsie. Onthou, fetakaas is klaar taamlik sout – wees dus versigtig met nog sout byvoeg.
Genoeg vir 2

• 720 g botterskorsie, geskil
• sowat 100 ml olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 x 400 g-velle blaardeeg
• 6 vars salieblare
• 3 wiele fetakaas, gekrummel
• 1 eier, geklits

Verhit oond tot 180 °C. Sny geskilde botterskorsie in dun skywe. Sprinkel helfte van olyfolie op ’n groot bakplaat en pak botterskorsie in een laag op bakplaat. Sprinkel res van olyfolie oor en geur met sout en peper. Oondbraai sowat 35 minute in warm oond tot botterskorsie gaar is. Haal uit en laat afkoel. Plaas een vel blaardeeg op ’n werkoppervlak. Gebruik ’n kleinbordjie om twee sirkels uit die deeg te sny. Plaas die twee deegsirkels op ’n goed gesmeerde bakplaat. Pak een laag botterskorsie op elke deegsirkel, maar hou ’n rand van so 2 cm rondom oop. Plaas ’n salieblaar op botterskorsie op elke sirkel. Sprinkel ’n laag fetakaas op. Herhaal lae nog twee keer. Sny nou twee sirkels uit die ander vel deeg, maar hierdie sirkels moet so 4 cm groter in deursnee wees. Verf die rand van die deeg met die vulsel op met geklitste eier. Maak elke pastei toe met die groter sirkel en druk die rand van die deeg stewig vas. Sny kruisies net-net deur die boonste laag van die deeg. Verf met geklitste eier en plaas in oond. Bak 40 minute tot deeg bros en goudbruin is. Haal uit en sit warm voor.