Gebak

Brie-kaas-en-spinasie-croissants

(3 porsies)

  • 3 croissants
  • 30 ml botter
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 400 g baba-spinasieblare
  • 3 eiers
  • 125 g brie-kaas, in snye
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Skakel die rooster-element van jou oond aan. Halveer die croissants in die lengte en plaas op ’n bakplaat, gesnyde kante bo. Rooster die croissants tot mooi bruin. Hou eenkant. Smelt die botter in ’n pan en braai die knoffel vir sowat ’n minuut. Voeg die spinasie by en braai tot verwelk. Dit gaan na baie spinasie lyk wanneer dit rou is, maar jy sal verbaas wees om te sien hoe min dit word wanneer dit verwelk. Hou die spinasie warm en kook die eiers. Plaas hulle in ’n kastrol met koue water. Bring tot kookpunt en kook die eiers vir nét 2 minute – jy wil saggekookte eiers hê. Haal die eiers uit die kookwater en plaas onmiddellik in koue water. Skep van die spinasie op die onderste helfte van elke croissant en plaas snye brie-kaas bo-op. Dop die eiers af en breek oop oor die kaas. Geur met sout en swartpeper. Maak die croissant toe en sit dadelik voor.