Foto deur Donna Lewis SARIE KOS ugustus/September 2014

Gebak

Brioche-mosbolletjies

Die Franse soetbrood word verryk met baie botter en room en kry ’n Suid-Afrikaanse geurtjie met ’n bietjie anyssaad.

Genoeg vir 2 groot brode met 14 rolletjies elk

• 1 kg (1 785 ml) koekmeel
• 100 g (120 ml) strooisuiker
• 2 x 10 g-sakkies kitsgis
• 20 g sout
• 12 eiers
• 20 ml anyssaad
• 500 g (540 ml) ongesoute botter, in klein blokkies gesny
• 1 eier, liggies geklits
• 80 ml heuning
• 40 g (45 ml) botter
• 250 ml warm melk

Plaas koekmeel, suiker, gis, sout,eiers en anys in elektriese menger se bak. Gebruik die mengspaan (K-beater) en meng die beslag sowat 8 minute by matige spoed totdat ’n stywe deeg vorm. Voeg 500 g botter bietjies op ’n slag by en meng tot alles ingemeng is. Die beslag sal ’n gladde voorkoms hê. Plaas mengsel in bak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rus oornag in yskas. Verhit oond tot 180 ºC. Keer mengsel uit op meelbestrooide oppervlak en verdeel in stukke van 80 g elk (dis belangrik om dit te weeg sodat elke porsie ewe groot is). Rol in netjiese balletjies en plaas in twee 30 x 10 cm-broodpanne wat gespuit is met kleefwerende kossproei. Laat rys op warm plek tot dubbel in volume, sowat 60 – 90 minute. Verf met geklitste eier en bak 25 – 30 minute of tot goudbruin en gaar. Smelt heuning en 40 g botter saam. Verhit melk. Voeg heuningmengsel by warm melk en meng. Gooi oor brioche wanneer dit uit die oond kom.