Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Brioche

(2 Groot brode met 14 rolletjies elk)

  • 1 kg (1 785 ml) koekmeel
  • 100 g (120 ml) strooisuiker
  • 2 x 10 g-sakkies kitsgis
  • 20 g sout
  • 12 eiers
  • 500 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny
  • 1 eier, liggies geklits
  • 80 ml heuning
  • 45 ml botter
  • 250 ml melk

Plaas koekmeel, suiker, gis, sout en eiers in elektriese menger se bak. Gebruik die mengspaan (K-beater) en meng die beslag sowat 8 minute op matige spoed totdat dit ’n stywe deeg vorm. Voeg botter bietjies op ’n slag by en meng tot alles ingemeng is. Die beslag sal ’n gladde voorkoms hê. Plaas mengsel in bak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rus oornag in yskas. Verhit oond tot 180 ºC. Keer mengsel uit op meelbestrooide oppervlak en verdeel in 80 g-balletjies (dis belangrik om dit te weeg sodat elke porsie ewe groot is). Rol in netjiese balletjies en plaas in 30 x 10 cm broodpan wat gespuit is met kleefwerende sproei. Laat rys op warm plek tot dubbel in volume, sowat 60 – 90 minute. Verf met geklitste eier en bak vir 25 – 30 minute of tot goud-bruin en gaar. Smelt heuning en 45 ml botter saam. Voeg by warm melk en gooi oor brioche wanneer dit uit oond kom.