Gebak

Bruinsuikermeringue-soene

(genoeg vir 12 soene)

  • 4 eierwitte
  • 300 g (375 ml) bruinsuiker
  • 5 ml karamelgeursel
  • 45 ml mielieblom
  • 125 ml room
  • 100 g donkersjokolade, fyngekap

Verhit oond tot 150 °C. Plaas eierwitte in elektriese menger se bak en klits op hoë spoed tot stywe punte vorm. Gooi suiker geleidelik by en hou aan klits tot blink, stywe mengsel. Vou karamelgeursel en mielieblom in. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Skep eetlepels vol van die mengsel op die bakplaat en bak vir 20 – 25 minute, of tot dit buite bros maar binne nog sag is. Laat afkoel. Bring room tot kookpunt en gooi oor sjokolade. Roer tot glad. Laat afkoel tot dik mengsel. Skep lepels vol op helfte van meringues en plaas ander helfte bo-op. Sit voor.