FOTO Lee Malan

SARIE KOS APRIL/MEI 2013

FOTO Lee Malan SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Bykos

Caprese-panpizza

Pizza maak is een van die dinge waaroor ek gaande is; almal is altyd bereid om te help. Hierdie resep is boonop ʼn kortpad.

genoeg vir 4 – 6 Pizzas

•  500 g winkel-brooddeeg
•  140 g (250 ml) koekmeel
•  1 pakkie (240 g) songedroogde tamaties
•  100 g fetakaas
•  60 ml basiliekruidpesto
•  250 ml olyfolie
•  100 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
•  paar basiliekruidblare
•  3 tamaties, in skywe gesny
•  paar takkies tiemie
•  sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 200 °C met roosterelement aan. Verdeel die deeg in 4 – 6 balletjies. Rol in sirkels van sowat 1 cm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Verpulp songedroogde tamaties, fetakaas en basiliekruidpesto in ’n voedselverwerker. Hou eenkant. Verhit olyfolie oor matige hitte in ’n pan wat so groot soos jou pizza is. Plaas deegsirkel in pan en smeer tamatiemengsel oor die deeg.

Pak mozzarella bo-op, gevolg deur basiliekruidblare en vars tamatieskywe. Sprinkel tiemie, sout, peper en ekstra olyfolie oor. As die basis van die pizza begin bruin raak, plaas pan onder rooster-element van die oond tot kaas bruin is en deeg begin oppof.