sk0812mexican11
Gebak

Churros met sjokoladesous

6 porsies

• 420 g (750 ml) koekmeel
• 5 ml bakpoeier
• 750 ml water
• 2 ml sout
• 45 ml bruinsuiker
• 2 eiergele
• sowat 500 ml sonneblomolie
• versiersuiker, om oor te sif

Sif die meel en bakpoeier saam. Bring die water tot kookpunt en voeg die sout en bruinsuiker by. Roer tot die suiker opgelos het. Haal die kastrol van die hitte af en voeg die meel en bakpoeier by. Klop tot glad. Klits die eiergele een vir een by. Laat afkoel. Plaas die deeg in ’n spuitsak. Verhit die olie. Om te toets of jou olie reg is, gooi ’n stukkie brood daarin. As die blokkie ná 1 minuut mooi bruin is, kan jy jou churros begin braai. Spuit die deeg direk in die olie in. Braai vir so 3 – 4 minute tot bruin. Dreineer op kombuispapier. Sif versiersuiker oor en sit voor saam met die sjokoladesous.

Sjokoladesous

• 100 g 70%-donkersjokolade, in stukke gebreek
• 250 ml room

Plaas die sjokolade en room saam in ’n kastrol. Smelt oor baie lae hitte. Sit warm saam met die churros voor.

Om te drink
’n Glasie Rooiberg Rooi Muskadel sal perfek pas.