Gebak

Croque monsieur

(6 porsies)

Béchamelsous (ryk witsous)

• 500 ml melk
• 1 klein ui
• 1 lourierblaar
• 50 g botter
• 50 g meel
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit jou oond tot 200 °C. Gooi die melk, ui en lourierblaar in ’n klein kastrol. Verhit die melk, maar moenie dit laat kook nie. Haal die kastrol van die hitte af en laat staan vir so 5 minute. Die melk word gegeur deur die ui en lourierblaar. Smelt die botter in ’n ander kastrol. Voeg die meel by en meng goed tot ’n gladde pasta. Voeg die gegeurde warm melk (haal eers die ui en lourierblaar uit) bietjie vir bietjie by en hou aan met roer. Jy maak nou ’n witsous. Hou aan roer tot dit dik is. Laat die sous effens afkoel.

• 6 engelse muffins, gehalveer tot twee sirkels
• sowat 60 ml korrelmosterd
• 6 snye ham
• 140 g gruyère-kaas, gerasper

Plaas die onderkant van elke muffin op ’n bakplaat. Smeer die muffins lekker dik met die korrelmosterd. Skep ’n eetlepel béchamelsous bo-op die mosterd. Vou die ham indien dit te groot is sodat dit mooi op die muffin pas. Sprinkel van die gruyère-kaas bo-oor en maak toe met die ander muffin-helfte. Skep nou nog van die sous bo-op en sprinkel met nog gruyère-kaas. Geur met varsgemaalde swartpeper. Plaas in die warm oond en bak vir 15 – 20 minute. Sit dadelik voor.