Croquembouche

Croquembouche FOTO Lee Malan

Gebak

Croquembouche

Tyd met Tapas

Laat jou gaste vergeet van tyd met ń verskeidenheid klein bakkies kos, warm en koud, en daarby heerlike, vars brood. So ń peusel-ete is sakpas en gemaak vir kuier.

Bou jou piramide As jy jou croquembouche lekker groot en hoog wil hê, maar nie dosyne poffers wil bak nie, maak só: Kyk by bloemistewinkels vir oasis wat soos ’n groot roomyshoring lyk. Jy kry verskillende groottes en die keuse is joune. Draai die oasis toe in bakpapier en spuit met kleefwerende kossproei. Plak dan jou poffers met die warm karamel of gesmelte sjokolade aan die bakpapier vas. Begin onder by die basis en werk boontoe.

Dit staan ook bekend as ’n pièce montée en is ’n uithaler-nagereg.

8 – 10 porsies

• 500 ml water
• 200 g botter
• 10 ml sout
• 280 g (500 ml) koekmeel
• 8 eiers

Vulsel
• 5 eiergele
• 150 g (180 ml) strooisuiker
• 100 g (210 ml) mielieblom
• 500 ml melk
• 200 g (250 ml) suiker
• 60 ml water
• 100 g donkersjokolade, gesmelt

Verhit oond tot 180 °C. Plaas water en botter in ’n middelslag-pot. Bring tot kookpunt met deksel op. Voeg sout en meel alles op een slag by en roer met ’n houtlepel tot alles in een bal saamkom. Hou op hitte en roer nog 3 minute. Verwyder van plaat en laat sowat 10 minute lank afkoel. Voeg eiers een vir een by. Meng elke keer goed. Voer bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Skep teelepels vol van die mengsel op die bakplaat. Bak vir 35 – 40 minute of tot goudbruin. Laat afkoel.

Vulsel: Plaas eiergele en strooisuiker in menger en klits tot lig en romerig. Klits mielieblom by. Verhit melk tot net onder kookpunt. Voeg by eiermengsel terwyl jy roer.Gooi terug in pot en roer sowat 5 – 8 minute tot mengsel dik is. Roer oor lae hitte vir nog 3 minute. Gooi in skoon bak en plaas kleefplastiek direk op die vulsel. Laat afkoel. Haal kleefplastiek af en klits koue mengsel tot glad. Vul spuitsak daarmee.Maak ’n klein gaatjie in elke poffer met ’n dikkerige sosatie-stokkie. Spuit vulsel in poffer. Plaas suiker en water in ’n skoon pot en bring tot kookpunt. Laat kook vir 5 – 8 minute of tot ’n goue karamel vorm.Doop gevulde poffers in karamel.

Begin piramide bou . Die karamel sal sorg dat die balletjies aan mekaar vassit. Skep gesmelte sjokolade oor en sit voor.

Croquembouche

Croquembouche
FOTO Lee Malan

Om te drink
• Groote Post The Old Man’s sparkle Brut
• Rosé Cap Classique

WENK
Jy kan die croquembouche versier met die karamel wat in die pot oorbly. Hou ’n lepel met warm karamel ’n ent bokant ’n koekroller en laat die karamel oor die koekroller loop terwyl jy die roller draai om dun goue karameldrade te maak.

Edition SARIE Maart 2012 | Story Tydsaam met Tapas|Resep Croquembouche