Gebak

Dadel-en-pekanneut-torte

(10 porsies)

Kors

  • 420 g (750 ml) koekmeel
  • 120 g (250 ml) mielieblom
  • 2 ml sout
  • 360 g (390 ml) botter
  • 2,5 ml kremetart
  • 100 ml yskoue water

Sif meel, mielieblom en sout saam. Vryf botter by meelmengsel in tot krummelrig. Los kremetart in water op en meng by meelmengsel in. Meng totdat deeg ’n bal vorm. Draai dit in kleefplastiek toe en hou in die yskas tot benodig. Haal dit uit 15 minute voor jy dit wil rol. Rol deeg uit. Smeer ’n losboom-koekpan van sowat 23 cm en voer uit met deeg.

Vulsel

  • 5 ml kaneel
  • 500 g dadels, ontpit en grofgesny
  • 50 ml brandewyn
  • 175 g (190 ml) botter
  • 250 ml strooisuiker
  • 3 groot eiers
  • 70 g (125 ml) koekmeel, gesif
  • 175 g pekanneute, grofgemaal
  • 4 eierwitte
  • 50 g amandelvlokkies, om bo-oor te strooi

Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel kaneel oor dadels. Verhit brandewyn en giet oor. Room botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die 3 eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Vou meel, pekanneute en dadels by bottermengsel in. Klits eierwitte tot sagte punte vorm en vou liggies in. Skep vulsel egalig oor kors. Bak vir 20 minute. Strooi amandelvlokkies oor en bak vir nog 20 minute tot gaar. Sit voor met vla of gegeurde room.

Om te drink
Oranjerivier Wynkelders Rooi Muskadel