_16A0026-Edit
Gebak

Dadelpoeding met toffiesous

Sit voor met kits-vanieljevla – die perfekte pasmaat vir die sagte sponspoeding. 

genoeg vir 6 – 8 

Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n ring-koekpan met volume van 2,2 liter met kleefwerende kossproei. Bring 250 g dadels en 250 ml kookwater in ’n klein kastrolletjie tot kookpunt oor matige hitte. Kook sowat 5 minute tot dadels sag is. Laat dadels eenkant afkoel.

Meng 200 g (250 ml) sagte bruinsuiker, 250 ml melk en 3 eiers saam in ’n mengbak met ’n draadklitser. Voeg die dadels by en meng goed deur. Klits 100 g (110 ml) gesmelte botter by dadelmengsel. Voeg 350 g (630 ml) gesifte bruismeel by en meng goed deur met ’n houtlepel. Skep beslag in voorbereide koekpan en plaas in oond vir 40 minute.

Toffiesous Verhit 400 g (500 ml) suiker en 100 ml water saam in ’n diep pan. Laat staan oor matige hitte tot ’n donker karamel vorm. Moenie die mengsel roer nie – dit sal suikerkristalle veroorsaak. Roer 50 g (55 ml) botter by met ’n draadklitser. Voeg 250 ml room by en klits oor hitte tot ’n dik sous vorm. Haal poeding uit koekpan en plaas op opdienbord. Gooi van die karamelsous oor. Sit voor met res van sous.

Kry nóg lekker winter treffers in jou nuutste SARIE Kos nóú beskikbaar landswyd by jou naaste supermark.  

SARIE Kos Junie-Julie 2016