sr1212_kos_moods_6_
Gebak

Doilie-koekies vir jou boom

(sowat 50 koekies)

  • 250 g botter
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 300 ml gouestroop
  • 5 ml vanieljegeursel
  • knippie sout
  • 600 g (1 070 ml) koekmeel, plus ekstra vir uitrol
  • 200 g fyn amandels

Verhit oond tot 180 °C.

Plaas botter, suiker, stroop en vanielje in ’n middelslag-mengbak. Klits met ’n elektriese klitser tot lig en romerig. Voeg sout, meel en amandels by. Meng tot ’n sagte koekiedeeg. Draai deeg toe in kleefplastiek en laat rus in yskas vir 25 minute.

Strooi dun lagie meel op werkvlak. Gebruik ’n koekroller en rol koue deeg tot sowat 5 mm dik uit. Druk koekies met ronde koekiedrukkers met kartelrande uit. Druk met kleiner koekiedrukkers ander patrone in die koekies (vra by bakwinkels vir aspiek- koekiedrukkers). Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei.

Pak koekies op bakplaat. Plaas in oond vir 12 – 15 minute of tot goudbruin en gaar. Haal uit oond en laat afkoel. Bind stukkies tou of lint aan koekies vas. Stoor in lugdigte houers.