Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS OKT/NOV 2013

Gebak

Eend met lemoensous in ’n sakkie

Eend kan taamlik droog wees as dit verkeerd gaargemaak word. Oondbraai dit in ’n baksakkie as jy wil seker maak dis heerlik sappig.
Genoeg vir 6

• 250 ml lemoensap
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• 30 ml korrelmosterd
• 5 ml worcestersous
• 30 ml heuning
• 6 eendporsies (dy en boud)
• sout en varsgemaalde swartpeper
• mikrokruie

Gooi lemoensap, knoffel, mosterd, worcestersous en heuning saam in ’n mengbak en meng om marinade te maak. Geur eend met sout en peper. Plaas in ’n groot baksakkie. Gooi marinade in en bedek eend goed met marinade. Maak sakkie toe en druk alle lug uit. Bind styf vas en plaas in yskas. Laat marineer sowat 6 uur. Verhit oond tot 180 °C. Plaas baksakkie op ’n bakplaat en prik sakkie met vurk. Plaas in oond en oondbraai 1½ uur. Haal uit, sny sakkie oop en plaas eend in oondbraaibak. Gooi marinade oor en oondbraai nog sowat 10 – 15 minute tot eendvel lekker bros is. Sprinkel mikrokruie oor.