sk08_2kaas02
Gebak

Fetakaas-quiche

(quiche van sowat 20 cm in deursnee)

Deeg

  • 200 g (360 ml) meel
  • 1 ml sout
  • 100 g botter, in blokkies gesny
  • 45 ml water

Meng die meel en sout in ’n mengbak. Voeg die botter by en vryf in die meel tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die water by en maak aan tot stywe deeg. Maak die deeg toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir 30 minute.

Vulsel

  • 30 ml botter
  • 4 preie, in skywe gesny
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 400 g fetakaas, gekrummel
  • 100 g swart olywe, ontpit
  • sowat 6 vars basiliekruidblare, gesny
  • varsgemaalde swartpeper
  • 2 eiers
  • 250 ml room

Smelt die botter in ’n pan. Braai die preie en knoffel tot sag en deurskynend. Laat afkoel. Verhit jou oond tot 200 °C. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer ’n gesmeerde quiche-pan daarmee uit. Blindbak die deeg vir sowat 20 minute. Haal uit en laat afkoel. Stel jou oond laer tot 180 °C. Skep die afgekoelde preie en knoffel bo-op die deeg. Sprinkel die fetakaas bo-oor die preie. Dit kan na baie kaas lyk, maar dis reg. Rangskik die olywe bo-op en sprinkel die vars basiliekruid oor. Geur met swartpeper. Plaas die quiche-pan op ’n bakplaat. Klits die eiers en room saam. Giet dié mengsel versigtig oor die quiche. Bak vir so 45 minute tot gaar.

 

Om te drink

Skink hierby ’n chenin blanc. Onthou, as jy ‘n gereg bedien wat taamlik sout is, soos hierdie een, sal enige wyn wat jy daarmee voorsit soeter as gewoonlik smaak. Boland Kelder Chenin Blanc bied uitstekende waarde vir geld, en spog met heerlike tropiese vrugtegeure.