FOTO Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Gebak

Gebakte kaaskoek

Dis Ria Louwvan die Paarl se resep en ek het dit so ’n bietjie aangepas. Die koek moet vir minstens ’n dag ná dit gebak is in die yskas bly.

6 – 8 Klein kaaskoekies met deursnee van sowat 9 cm, sowat 4 cm hoog

Kors
• 1 pakkie (200 g) semelkoekies (digestive biscuits)
• 100 g botter, gesmelt

Kap koekies in voedselverwerker fyn en meng met gesmelte botter. Druk mengsel in pannetjies.

Vulsel
• 2 x 230 g-bakkies roomkaas
• 250 ml strooisuiker
• 3 eiers
• 250 ml suurroom
• 250 g crème fraîche
• 5 ml vanieljegeursel

Verhit oond tot 150 ºC. Klits roomkaas en strooisuiker tot glad. Voeg eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg suurroom, crème fraîche en geursel by en meng goed. Gooi vulsel in pannetjies. Bak vir 30 minute. Skakel oond af en laat staan vir nog 40 minute in oond. Plaas in yskas. Sit voor met aarbeie of bessies en ’n lepeltjie heuning. Dis ’n duur kaaskoek, maar enig in sy soort!