Gebak

Gebakte sjokoladevla

(4 porsies)

  • 450 ml room
  • 200 g melksjokolade
  • 84 g strooisuiker
  • 5 eiergele
  • 100 g 70%-sjokolade
  • 200 g donkersjokolade

Plaas die room en melksjokolade saam met die helfte van die strooisuiker in ‘n kastrol. Bring die mengsel net tot kookpunt en tot die sjokolade gesmelt is. Plaas die eiergele in ‘n bak en klits saam met die res van die strooisuiker tot lig en romerig. Voeg die room-sjokolademengsel stadig by en klits goed. Verdeel in bakkies en plaas in ‘n bain-marie – dit is ‘n oondbak wat jy met water vul tot by die helfte van jou bakkies se hoogte. Bak teen 150 °C vir 45 minute. Haal die bakkies uit en laat dit afkoel, verkieslik oornag in die yskas. Smelt nou die 70%-sjokolade en donkersjokolade vir die sjokolade-dekseltjies. Plaas ‘n ronde koekiedrukker (met dieselfde omtrek as die bakkies met die sjokoladevla) bo-op ‘n vel waspapier en verf die omtrek daarvan uit met die gesmelte sjokolade. Laat die sjokolade hard word en herhaal die proses as jy ‘n dikker dekseltjie verlang. Laat die sjokolade heeltemal hard word en haal dit versigtig van die waspapier af. Plaas nou ‘n sjokolade-deksel bo-op elke bakkie.