Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Gebak

Gebakte vla met sagte meringue

Hierdie nagereg is heerlik lig, maar dis ook lekker soet.
(Genoeg vir 6)

  • 1 vanieljepeul
  • 450 ml room
  • 3 eiergele
  • 84 g (100 ml) strooisuiker

Verhit oond tot 180 °C. Sny vanieljepeul oop met ’n skerp messie. Skraap die sade uit met die rugkant van die lem van die messie. Plaas sade saam met die room in kastrol. Verhit tot net voor kookpunt. Plaas eiergele in ’n mengbak. Klits met elektriese menger en voeg suiker bietjies-bietjies by. Klits tot lig en romerig. Voeg warm room by, maar meng met houtlepel en nie met elektriese menger nie – jy wil nie te veel skuim bo-op hê nie. Verdeel mengsel tussen 6 bakkies. Plaas bakkies in groot oondbak en gooi kookwater in oondbak tot so halfpad teen bakkies op. Plaas in warm oond en bak 45 minute. Haal uit en plaas bakkies op bakplaat. Maak nou die meringue vir bo-op.

Meringue

  • 3 eierwitte
  • 80 g (85 ml) strooisuiker

Plaas eierwitte in mengbak van elektriese menger. Klits tot net voor stywe-puntstadium – sien kassie op web. Voeg strooisuiker lepel vir lepel by terwyl eierwitte geklits word. Skep meringue bo-op vla. Plaas terug in oond tot die meringue net begin bruin word bo-op. Haal uit en sit warm voor.