sk08_4ontbyt04
Gebak

Gedraaide sjokolade-pasteie

(sowat 12 pasteie)

  • 500 g (890 ml) koekmeel
  • 45 ml kakao
  • 500 g (540 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny
  • 300 ml sodawater
  • 15 ml brandewyn
  • 100 g donkersjokolade, in blokkies gebreek
  • versiersuiker om oor te sif

Sif die meel en kakao saam en voeg die botterblokkies by. Roer effens deur. Voeg die sodawater en brandewyn by. Maak aan tot ’n deeg – jy sal nog heel blokkies botter daarin sien. Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir 30 minute. Begin die deeg in een rigting op ’n meelbestrooide oppervlak uitrol. Vou die deeg van agter na voor en vee die oortollige meel af. Vou dan die deeg van die kant na die middel en herhaal die proses tot al die botter heeltemal ingewerk is. Laat die deeg ná so elke twee rolle weer in die yskas rus – dit moet deurentyd koud bly. Verhit jou oond tot 200 °C. Rol die deeg uit tot sowat 1 cm dik en sny in blokke van sowat 15 x 10 cm. Plaas ’n blokkie donkersjokolade in die middel van elkeen. Rol elke stuk deeg in die lengte sodat dit soos ’n wors lyk. Vou die ente skuins oor mekaar. Plaas die pasteie op ’n gesmeerde bakplaat en bak vir 25 – 30 minute. Haal uit die oond en sif ’n bietjie versiersuiker oor. Bedien warm of teen kamertemperatuur.