FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Diabeties

Gemengde bessie-kaaskoek

Bessies is propvol vitamiene en antioksidante. As jy dit nie vars kan kry nie, gebruik bevrore bessies, maar ontdooi in yskas en gooi water wat uitloop weg.

10 porsies

• 200 g fyn amandels
• 45 ml kanola-olie
• 1 eierwit
• 450 g ricotta-kaas
• 450 g gladde laevet-maaskaas
• 40 g koekmeel
• 4 eiers
• 20 g suikerplaasvervanger (Canderel Yellow)
• 250 g gemengde bessies van jou keuse

Verhit oond tot 180 ºC. Meng amandels, olie en eierwit saam tot gladde mengsel. Voer losboompan van 30 cm uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Skep amandelmengsel onder in pan en druk stewig vas met lepel se agterkant. Bak dié kors 8 – 10 minute of tot goudbruin. Haal uit oond en verlaag temperatuur tot 140 ºC. Plaas res van bestanddele in voedselverwerker en verpulp by hoë spoed tot gladde mengsel. Skep die vulsel in die voorbereide amandelkors en smeer gelyk. Plaas losboompan in ’n oondpan en vul die oondpan met kookwater tot op die hoogte van die vulsel in die losboompan. Plaas in warm oond en bak sowat 3 uur of tot gestol soos jellie. Verwyder uit oond en laat afkoel tot louwarm. Plaas in yskas en verkoel tot gestol. Verwyder ring en sit voor.