Foto deur Donna Lewis SARIE KOS DES 13/JAN 14

Gebak

Gesuikerde lemoenmuffins

Genoeg vir 12

• 245 g (440 ml) koekmeel
• 7 ml bakpoeier
• 2 ml sout
• 3 ml neutmuskaat
• 3 ml kaneel
• 1 groot eier
• 125 ml olie
• 150 g (190 ml) suiker
• 125 ml melk
• sap en skil van 1 lemoen
• 50 ml marmelade

Bolaag
• 100 g (125 ml) suiker
• 5 ml kaneel
• 55 g (60 ml) botter

Verhit oond tot 180 °C. Sif droë bestanddele saam. Klits eier, olie, suiker en melk saam. Voeg eiermengsel by droë bestanddele en meng. Gooi sap en skil van lemoen by en meng deur. Spuit 12 holtes van standaard-muffinpan met kleefwerende kossproei en maak holtes halfvol beslag. Skep klein teelepel marmelade op beslag en voeg nog beslag by tot holte ¾ vol is. Bak 20 – 25 minute in warm oond of tot toetspen skoon uitkom.
Bolaag Meng suiker en kaneel. Smelt botter. Doop muffins se bokant in botter en dan in kaneelsuiker. Laat afkoel.