Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Gevulde aartappels met bros spek

genoeg vir 2

• 2 groot aartappels met skil
• 20 ml botter
• 2 sprietuie, gekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 50 g parmesaankaas, fyngerasper
• 6 repe strepiespek

Verhit oond tot 200 °C. Prik elke aartappel ’n paar keer aan die een kant met ’n vurk. Plaas aartappels direk op die oondrak en bak tot sag. Haal uit oond en sny ’n klein “dekseltjie” aan die bokant van elke aartappel af. Skep die sagte inhoud van die aartappels uit in ’n mengbak. Voeg onmiddellik die botter by en druk fyn met ’n vurk. Voeg sprietuie by en geur met sout en peper. Voeg parmesaankaas by en meng deur. Plaas die uitgeholde aartappels op ’n bakplaat en vul met sagte aartappelvulsel. Halveer elke spekreep. Voer ’n bakplaat uit met foelie. Plaas 3 stukke spek langs mekaar op bakplaat. Plaas nog 3 stukke in die teenoorgestelde rigting bo-op spek. Vleg spekrepe oormekaar. Herhaal met res van spek. Plaas bakplaat met spek saam met gevulde aartappels in oond en oondbraai sowat 20 minute tot spek bros is. Haal uit en plaas spek bo-op aartappels en sit warm voor.