sk08_2souffle05
Gebak

Grenadella-soufflé

(4 porsies)

  • 15 ml botter (om bakkies mee te smeer)
  • sowat 30 ml strooisuiker
  • 500 ml vla
  • 2 blikkies (115 g) grenadellapulp
  • 8 eierwitte
  • versiersuiker om bo-oor te sif

Verhit jou oond tot 180 °C. Smeer 4 ramekin-bakkies goed met botter. Skud ’n klein bietjie strooisuiker in elke bakkie en rol die bakkie rond sodat ’n lagie suiker die gebotterde binnekant bedek. Giet die vla in ’n groot mengbak en voeg die grenadellapulp by. Meng goed. Klits die eierwitte styf, en vou sowat twee groot lepels daarvan by die grenadellapulp in. Vou dan die res van die eierwit versigtig in. Giet die mengsel tot bo in die voorbereide bakkies, en gebruik ’n skrapertjie om die oppervlak gelyk te maak. Trek met ’n mes al om die binnerand van elke bakkie en bak vir 15 – 20 minute. Haal uit die oond. Sif ’n klein bietjie versiersuiker bo-op elke soufflé en sit dadelik voor. (Jy kan dit ook met grenadellapulp bo-op versier.)

 

Om te drink

Natuurlike grenadellageure kom in ’n rieslingwyn voor. In Neethlingshof  se Weisser Riesling Noble Late Harvest is ’n rykdom van grenadella-, appelkoos-, perske- en heuninggeure opgesluit wat hierdie soufflé tot sy reg laat kom.

 

Wenk

Gebruik die orige eiergele vir tuisgemaakte hollandaise sous of kruie-mayonnaise.