sr1304_hoofkos_6_
Gebak

Grenadellasuurlemoentert

Grenadella is heerlik geurig vir ’n variasie. Probeer dit! Jy kan ook die grenadella uitlaat as jy wil.

(genoeg vir 1 x 25 cm-tert)

Kors

  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 155 g (170 ml) botter
  • 115 g (60 ml) versiersuiker
  • 45 ml water

Vulsel

  • 2 x 385 g-blikke kondensmelk
  • 250 ml vars suurlemoensap
  • 6 grenadellas se moes
  • 4 eiers, geskei
  • 2 ml kremetart
  • 250 g (300 ml) strooisuiker
  • 10 ml mielieblom
  • ekstra grenadella-moes

Plaas meel, botter en versiersuiker in voedselverwerker. Verwerk op hoë spoed tot die tekstuur van fyn broodkrummels.Terwyl masjien loop, gooi water in dun straaltjie by tot alles in een bal saamkom. Haal deeg uit menger en plaas vir 10 minute in yskas om te rus. Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel dun lagie meel op werkvlak en rol deeg tot sowat 3 mm dik uit. Voer ’n gesmeerde tertpan van 25 cm daarmee uit. Bak blind vir 15 minute (voer die deeg met bakpapier uit en vul die bodem met rou rys of bone). Haal rys en papier uit en bak vir nog 5 minute.

Vulsel

Meng kondensmelk, suurlemoensap, grenadella-moes en eiergele. Gooi in gebakte kors. Klits eierwitte en kremetart met elektriese klitser tot stywe punte vorm. Gooi strooisuiker geleidelik by terwyl jy klits. Vou mielieblom versigtig by. Skep meringue bo-op vulsel en plaas tert terug in warm oond vir 15 minute.

Verlaag hitte na 150 °C. Bak vir nog 20 minute. Haal uit oond en laat afkoel in yskas tot yskoud en gestol. Skep ekstra grenadella-moes oor en sit voor.