Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Gebak

Griekse Grondboonbotterkoekies

Griekse koekies bevat gewoonlik fyn amandels. Ek gebruik grondboontjieblokkies en sit ook gladde grondboontjiebotter in elke koekie.
(20 koekies van sowat 7 cm in lengte)

  • 225 g (245 ml) sagte botter
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 1 eiergeel
  • 30 ml water
  • 1 ml vanieljegeursel
  • 450 g (800 ml) koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 100 g grondboontjieblokkies
  • gladde grondboontjiebotter vir vulsel
  • versiersuiker om koekies in te rol

Voor jy die koekies bak, sien kassie met  bakwenke.
Verhit oond tot 190 °c. Plaas botter en suiker saam in elektriese menger se bak en verwerk tot lig. Voeg eiergeel, water en vanielje by en meng. Sif meel en bakpoeier saam in ’n mengbak. Voeg by bottermengsel en meng. voeg grondboontjieblokkies by en meng. keer mengsel op meelbestrooide oppervlak uit en knie tot gladde deeg vorm – dit sal dalk effens droog lyk, maar dis reg so. vat ’n hoogvol eetlepel deeg en plaas op jou handpalm. Rol in ovale vorm. maak gaatjie in middel en skep halwe teelepel grondboontjiebotter in gaatjie. vou toe met deeg en plaas op uitgevoerde bakplaat. Bak so 20 minute. Haal uit oond en laat afkoel. Plaas versiersuiker in ’n bak en rol elke koekie in suiker.

Wenke vir koekies bak

  1. Die bakproses is baie akkurater as jy ʼn skaal eerder as maatkoppies gebruik om die bestanddele af te meet.
  2. Plaas altyd die oondrak waarop jy jou bakplaat gaan sit, in die middel van die oond.
  3. Sorg dat die botter by kamertemperatuur is wanneer jy botter en suiker saam moet verroom in die elektriese menger. Dit maak die proses makliker.
  4. Gebruik die mengspaan(K-beater) van die elektriese menger om botter en suiker te verroom en om deeg aan te maak.
  5. Om te verseker dat die rande van die koekies nie brand of te donker bak nie, plaas twee bakplate opmekaar – die een binne- in die ander – en bak dan die deegballetjies op die dubbele bakplaat.
  6. Bêre altyd koekies in ʼn lugdigte houer om varsheid te verseker.