sk1011cover_3_
Gebak

SA se njammieste sjokoladekoek

Die koek is baie klam en nie te soet nie, so maak maar reg vir ’n tweede stukkie. Ek het die resep uitgedink toe ek eendag lus was vir ’n klam sjokoladekoek. Sjokolade en grondboontjiebotter is van my groot kosliefdes en ek het sommer ’n bietjie grondboontjiebotter bygevoeg om te kyk wat gebeur. Dis nou een vanmy gunsteling-koeke en dit hou nooit lank nie. Ek is ma van ’n besige 3-jarige tweeling, kosblogger, vryskut-kosfotograaf en stileerder. My liefde vir (eintlik obsessie met) kos is, soos dié van baie Afrikaanse vroue, gebore inmy ouma se kombuis. Sondagmiddae het haar tafel gekreun onder die gewig van al die kos. In 2009 het ekmet my kosblog, www.simply-delicious.co.za, begin en in 2010 het dit twee SA Blog Awards gewen. My eerste resepteboek word einde volgende jaar uitgegee. Nadat ek ’n SARIE-ontbyt in Pretoria bygewoon het en Barbara Joubert gesê het die inskrywings sluit dáárdie aand 12-uur, het ek besluit om in te skryf.

Grondboontjie-botter-sjokoladekoek

Maak een 22 cm-koek

• 400 g (500 ml) suiker
• 250 g (450 ml) koekmeel
• 75 g (200 ml) kakao
• 7,5 ml bakpoeier
• 7,5 ml koeksoda
• 5 ml sout
• 2 eiers
• 250 ml karringmelk
• 15 ml vanielje-ekstrak
• 250 ml warm koffie
• 60 ml gladde grondboontjiebotter
• 115g (125 ml) ongesoute botter, gesmelt

Versiersel
125 ml gladde grondboontjiebotter
• 115 g (125 ml) ongesoute botter, kamertemperatuur
• 325 g (625 ml) versiersuiker, gesif
• 75 g (200 ml) kakao, gesif
• 5 ml vanielje-ekstrak
• 135 ml room

Verhit oond tot 180 ºC. Spuit 2 koekpanne van 22 cm met kleefwerende kossproei en voer uit met bakpapier. Plaas al die droë bestanddele in groot bak. Meng eiers, karringmelk en vanielje saam en voeg by droë bestanddele. Meng warm koffie en grondboontjiebotter en botter saam tot gladde, sagte mengsel. Voeg by beslag en meng goed. Verdeel beslag tussen die koekpanne en plaas in warm oond. Bak vir 35 – 40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal koeke uit die oond en laat vir 10 minute in die panne afkoel. Keer koeke op afkoelrak uit en laat heeltemal afkoel. Versiersel Klop grondboontjiebotter en botter saam tot lig en romerig met ’n elektriese klitser. Voeg versiersuiker en kakao geleidelik by en meng tot ’n stywe mengsel. Voeg vanielje en room by. Meng weer tot gladde, romerige mengsel. Gebruik ’n skerp mes en sny elke koek in 2 lae. Plaas eerste laag op opdienbord en smeer ¼ van versiersel eweredig oor koek. Herhaal tot al die lae bo-op mekaar gestapel is.

  • Magda de Bruin

    Ek sal graag die uitgawe wil bekom ek was in die hospitaal en het die Okt.Nov 2011 uitgawe gemis.
    My e-pos adres is magda.deb@gmail.com. Ek sal graag van u wil hoor.
    Dankie
    Magda

  • Eleanor

    Die koek was glad nie vir my lekker nie. Te veel grondboontjie botter – alles het daarna geruik en geproe. Ek is maar ‘n sucker vir soetigheid en hierdie koek was nie baie soet nie.

  • Marianda de Vos

    Hierdie koek is besonders lekker!! Klam, nie te soet nie, versiersuiker glad en romerig (al los mens die room uit). Grondboontjiebotter gee `n lekker twist.

  • Carina

    Kan ek net asb vra: die resep in die fisiese tydskrif lys die bestandele as:
    15ml bakpoeier
    15ml koeksoda
    Hier bo sê dit 7,5ml van elk. Ek het gisteraand die koek uit die tydskrif gemaak en nodeloos om te se, het die twee koeke platgeval toe ek dit uit die oond uithaal.
    Is die resep soos hier op die webblad dus die regte hoeveelhede?

  • Nelmarie Wessels

    Aan Carina, die resep het my baie herinner aan die red velvet cake wat ek nou die dag gemaak het. In die resept gebruik hulle 2k meel, ook ‘n koppie karringmelk ens, en die resep vra vir 7ml bakpoeier en 7ml koeksoda. So ek sou gaan met die resep op die webtuiste, en nie die een in die tydskrif nie. Hoop dit help.