FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Gebak

Grondboontjiebotter-en-sjokolade-meringue

Tradisionele suurlemoenmeringue-tert, op sy kop gedraai met nuwe vlerke!

Genoeg vir 8 – 10

  • 1 x 200 g-pakkie glutenvrye koekies
  • 50 g (55 ml) botter, gesmelt
  • 125 ml gladde grondboontjiebotter
  • 180 ml room
  • 200 g sjokolade, fyngekap
  • 4 eierwitte
  • 200 g (250 ml) strooisuiker

Plaas koekies in ’n voedselverwerker en verwerk by hoë spoed tot fyn. Voeg botter by en meng tot klam, klewerige mengsel vorm. Voer ’n 30 cm-tertpan uit met die krummels. Smeer dun lagie grondboontjiebotter bo-op krummels. Bring room tot kookpunt en gooi oor gekapte sjokolade. Roer tot glad. Gooi in tertpan en plaas vir 1 uur in yskas om te stol. Gooi eierwitte in skoon mengbak en klits met elektriese klitser tot sagte puntevorm. Terwyl menger loop, gooi suiker geleidelik by en hou aan klits tot blink en styf. Skep meringue bo-op tert en brand bruin met kombuisblaasvlam of onder oond se rooster-element. Sit voor.

Wenk: Al gehoor van sout by grondboontjiebotter? Voor jy die meringue bo-op die tert skep, sprinkel ’n bietjie sout oor die sjokoladevulsel en skep dan meringue op. Dit rond die bitter van die sjokolade en die soet suiker goed af.