Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Gebak

Half-ontbeende lamsboud met kruisement-en-fetakaas-vulsel

Vra die slagter om die lamsboud te ontbeen tot by die skenkel. Die skenkelbeen moet nog deel van die boud wees.
(genoeg vir 6 – 8)

Kruisement-en-fetakaas-vulsel

  • 4 snye witbrood
  • 100 g botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 4 ringe fetakaas, gekrummel
  • hand vol vars kruisementblare, gekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 eier, geklits

Sny witbrood (korsies en al) in blokke en plaas in voedselverwerker. Kap fyn om broodkrummels te maak. Smelt botter in pan en voeg ui en knoffel by. (Die botter klink baie, maar dit maak die vulsel heerlik sag, veral wanneer jy die brood byvoeg). Braai ui en knoffel tot lig en deurskynend. Haal pan van hitte af en voeg broodkrummels, fetakaas en kruisement by. Meng goed en geur met sout en peper. Voeg eier by en meng goed.

Wenk
Ek het ’n stewige witbrood gebruik, soos ’n hawermout-en-heuningwitbrood. Dis makliker om daarmee broodkrummels te maak in die voedselverwerker.

  • 1 half-ontbeende lamsboud
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 groot tak met lourierblare
  • olyfolie vir sprinkel
  • sap van 1 suurlemoen
  • 600 g witwortels
  • 3 knoffelbolle

Verhit oond tot 180 °C. Vlek die ontbeende gedeelte van boud oop en geur met sout en peper. Plaas vulsel in en vou toe. Bind vas met tou. Druk die lourierblaar-tak onder die tou. Sprinkel bietjie olyfolie in oondbraaibak. Plaas boud in en sprinkel bietjie olyfolie booor. geur met sout en peper en sprinkel suurlemoensap oor. Maak bak toe met tinfoelie en plaas in warm oond vir 1 uur. Verlaag oond tot      160 °C. Haal bak uit en maak versigtig oop. Pak witwortels om boud. Sny die kopgedeelte van die knoffelbolle af en plaas in oondbraaibak. Sprinkel klein bietjie olyfolie bo-op elke knoffelbol. Maak weer toe met tinfoelie en plaas terug in oond vir nog 1 uur. Haal die tinfoelie af en oondbraai oop vir nog 1 uur. Haal boud uit en en plaas saam met groente op opdienbord. Voeg klein bietjie kookwater by sap wat agterbly in oondbak en kook af om sous te maak. Geur met sout en peper indien nodig.