Gebak

Ham-en-sampioen-souttert

Ek is mal oor ’n souttert wat met ’n kaasdeeg gemaak word.

genoeg vir 8

Kors
• 250 g (445 ml) koekmeel
• 100 g cheddarkaas, gerasper
• 125 g (135 ml) botter, in blokkies gesny
• 30 ml koue water

Plaas meel, kaas en botter in ’n voedselverwerker. Meng tot al die botter in meel ingewerk is. Voeg water by en meng tot deeg vorm. Haal uit en maak deeg toe met kleefplastiek. Laat rus 30 minute in yskas.

Vulsel
• 25 g (30 ml) botter
• 250 g sampioene, in skywe gesny
• 1 knoffelhuisie, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 g ham, in blokkies gesny
• 4 hardgekookte eiers, grofgekap
• 120 g cheddarkaas, gerasper
• 10 g grasuie, gesnipper
• 250 ml room
• 3 eiergele

Verhit oond tot 180 °C. Smelt botter in ’n pan en voeg sampioene en knoffel by. Geur met sout en peper. Braai tot sampioene gaar is. Skep sampioene uit pan sodat daar geen panvloeistof in die vulsel kan beland nie. Laat sampioene afkoel. Meng gaar sampioene, ham, hardgekookte eiers, kaas en grasuie saam. Rol verkoelde korsdeeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer die bodem en rand van ’n standaard-losboomkoekpan (23 cm in deursnee) uit daarmee. Die deeg moet sowat 3 cm hoog teen die rand van die koekpan vasgedruk word. Skep vulsel in gevoerde pan. Klits room en eiergele saam en gooi oor vulsel. Plaas in oond en bak 45 minute tot ’n uur, tot die vulsel stol. Haal uit en sit warm voor.

FOTO Mickey Hoyle