Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Heel ontbeende hoender gevul met ricotta-kaas en spinasie

(4 – 6 porsies)

vulsel

  • 400 g baba-spinasieblare
  • 15 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 eier, geklits
  • 500 g ricotta-kaas
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Gooi kookwater oor die spinasie en laat staan vir sowat 3 minute. Dreineer en druk al die water uit die blare. Kap fyn in voedselverwerker. Verhit olyfolie in ‘n pan en braai ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg spinasie by en braai verder vir nog sowat 2 minute. Gooi gebraaide spinasie in mengbak en laat afkoel. Voeg eier en ricotta-kaas by. Meng goed en geur met sout en peper.

  • 1 hoender van tussen 1,3 kg – 1,5 kg
  • sap van 1 suurlemoen
  • sowat 60 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit oond tot 180 °C. Sit die hoender op ‘n werkoppervlak met die borskant na onder. Sny in die middel van die rugkant oop (of vra jou slagter). Begin teen die karkas van die hoender die vleisgedeelte met ‘n skerp mes afsny. Wanneer jy by die vlerkies en boudjies kom, breek die beentjies by die lit deur. Die vlerkies en boudjies word afgesny. Lig die karkas uit wanneer dit loskom. Sit vulsel in middel en vou toe. Bind vas met tou en sit in oondroosterbak. Gooi suurlemoensap en olyfolie oor. Geur met sout en peper. Bak vir 1 uur. Haal uit en laat afkoel. Sny in skywe en sit voor teen kamertemperatuur.

Om te drink

‘n Vrugtige witwyn soos sauvignon blanc of as jy rooiwyn verkies, ‘n mediumronde wyn, soos merlot