Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Herderspastei met gebakte bone

(5 porsies)
porsiegrootte: 1 skep ± 325 g

  • 500 g aartappels, met skil en in 5 mm-skywe gesny
  • 5 – 10 ml olyf- of avokado-olie
  • 100 g gekapte ui
  • 5 ml gekapte knoffel
  • 1 middelslag- groen soetrissie, ontpit en in repies gesny (150 g)
  • 300 g maer beesmaalvleis
  • 1,25 ml fyn kaneel
  • 1,25 ml fyn naeltjies
  • 5 ml droë gemengde kruie
  • 10 ml beesvleisaftrekselpoeier
  • 125 ml kookwater
  • 30 ml tamatiepuree
  • 410 g-blik gebakte bone in tamatiesous (baked beans)
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 50 g gerasperde laervetcheddarkaas
  • 175 ml ongegeurde vetvrye jogurt
  • 1,25 ml sout
  • 1,25 ml fyn neutmuskaat
  • 1 groot eier
  • paprika
  1. Kook aartappelskywe in ‘n bietjie water vir 10 – 15 minute tot net gaar. Dreineer.
  2. Verhit oond tot 180°C.
  3. Verhit olie. Voeg ui, knoffel, soetrissie en maalvleis by en roerbraai tot die vleis verkleur. Voeg die kaneel, naeltjies en kruie by die vleismengsel. Meng die vleisaftreksel-poeier, kookwater en tamatiepuree en roer by vleismengsel. Laat kook en prut vir 10 minute. Roer gebakte bone by vleismengsel en geur met peper. Skep vleismengsel in gesmeerde oondskottel van 22 x 22 x 8 cm en maak bokant gelyk.
  4. Pak die gaar aartappelskywe bo-op die vleismengsel sodat die skywe met mekaar oorvleuel. Strooi kaas oor die aartappelskywe. Klits die jogurt, sout, neutmuskaat en eier saam. Skink die jogurt-mengsel eweredig oor die gereg. Strooi paprika liggies oor.
  5. Bak vir 30 – 35 minute tot jogurt-mengsel gestol is. Skakel oond se roosterelement aan en rooster vir 4 – 6 minute tot goudkleurig en effe bros.

VARIASIES EN OPMERKINGS:

  • SPYSKAART-IDEE 1

Herderspastei met gebakte bone
Groenslaai (gemengde slaaiblare, tamatie en komkommer)

  • SPYSKAART-IDEE 2

Herderspastei met gebakte bone
Gestoomde gemengde groente (wortelrepies, broccoli, blomkool)

  • Die gebakte bone is ryk aan vesel en help saam met die jogurt om die GI te verlaag. Verlaag die vet- en cholesterol-inhoud van die gereg verder deur die beesvleis met volstruisvleis te vervang.

VOEDINGSTOF-ANALISE PER PORSIE

GI laag (48)
• 1 580 kJ • koolhidrate 36 g • vesel 8,8 g • proteïene 25 g
• vet 11 g • MoVs 4,2 g • poVs 0,7 g • cholesterol 93 mg
• 1 skep herderspastei (sonder res van spyskaart-idees) is
gelykstaande aan: 3 laevetproteïene + 2 stysel + 1 groente