Foto deur Donna Lewis SARIE KOS Augustus/September 2014

Diabeties

Hoender-en-sampioen-cassoulet

Gewoonlik word dié soort boontjiebredie van oorskiet-eend gemaak. In sommige streke word dit met broodkrummels voorgesit, in ander daarsonder.

Genoeg vir 6
• 45 ml kanola-olie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 4 lourierblare
• 8 hoenderdye sonder vel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 liter beesaftreksel
• 500 g gemengde sampioene
• 6 murgpampoentjies, in ringe gesny
• 1 x 410 g-blik botterbone
• 40 g (45 ml) botter, gesmelt
• 100 g fyn broodkrummels
• 30 ml gemengde kruie, fyngekap

Verhit oond tot 180 °C. Verhit olie tot warm in groot oondvaste kastrol. Braai ui, knoffel en lourierblare tot ui begin verbruin–sowat 5 minute. Sit hoender-stukke in pot en braai 5–8 minute saam met uie of tot goudbruin. Geur goed met sout en peper. Gooi aftreksel by. Plaas pot oop in oond en oondbraai 30–45 minute of tot hoender van die been wegtrek. Haal hoender uit, vlok vleis van die bene af en plaas vleis terug in pot met potsous. Voeg sampioene, murgpampoentjies en bone by. Meng en plaas terug in oond. Oondbraai nog 25–30 minute of tot sampioene gaar is en dik potsous vorm. Meng botter, krummels en kruie. Sprinkel oor gaar hoender en bak nog 10–15 minute of tot goudbruin. Sit voor met groen groente van jou keuse.

Ontleding per porsie –kilojoules 2 009; proteïen 15,5 g; koolhidrate 29,6 g; vet 18,2 g
Mariza sê Sit voor met gestoomde groente of ’n groenslaai.