Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Hoender-en-sampioen-rolletjies

(LEWER 12 ROLLETJIES)
PORSIEGROOTTE: 1 ROLLETJIE

  • ½ hoenderaftrekselblokkie
  • 75 ml kookwater
  • 100 ml droë witwyn soos chardonnay
  • 1 (100 g) middelslag-ui, gehalveer
  • 3 knoffelhuisies
  • 6 swartpeperkorrels
  • 3 heel naeltjies
  • 1 lourierblaar
  • 600 g hoenderborsies met vel en been
  • 10 ml olyf- of kanola-olie
  • 250 g wit dwergsampioene, fyngekap
  • 2 (30 g) selderystingels, blare en stingels fyngekap
  • 1 (100 g) middelslag-wortel, grofgerasper
  • 25 ml koekmeelblom
  • 25 ml hawersemels
  • 250 ml laevet-melk
  • 2,5 ml sout
  • 2,5 ml paprika
  • 1,25 ml varsgemaalde swartpeper
  • 9 (250 g) velle fillodeeg
  • olyf- of kanola-olie
  • 1 eier, geklits met 5 ml water
  • ± 25 ml sesamsaad
  1. Plaas hoenderaftreksel, kookwater, wyn, halwe ui, 1 – 2 knoffelhuisies en speserye in ’n groterige kastrol en bring tot kookpunt. Sit hoenderborsies in kokende aftreksel en prut vir 20 minute, draai borsies om en prut vir nog 15 – 20 minute of tot die hoendervleis gaar en sag is. Laat dit in die aftreksel afkoel, haal vleis uit aftreksel en sny fyn.
  2. Kap oorblywende halwe ui en knoffel fyn. Verhit olie tot matige hitte en roerbraai die ui, knoffel, sampioene, seldery en wortel tot brosgaar. Roer gesnyde hoendervleis by die groentemengsel en verhit.
  3. Strooi koekmeel en hawersemels oor vleismengsel en roer deur. Roer melk by mengsel en prut vir 2 – 3 minute tot mengsel dik en gaar is. Die vleismengsel moet klam wees, maar nie souserig nie. Geur na smaak met sout, paprika en peper en verkoel vleismengsel voordat die rolletjies gemaak word.
  4. Verhit oond tot 180 °C.
  5. Bedek fillodeeg met ’n klam vadoek om te keer dat dit uitdroog. Sny elk van die nege fillo-velle in 4 reghoeke (altesame 36 reghoeke). Plaas eerste reghoek op werkblad, verf met olie, plaas tweede en derde reghoek op eerste reghoek en verf elke keer liggies met olie. Verdeel vleismengsel in 12 porsies (ongeveer 75 g elk). Skep porsie vleisvulsel in middel van fillodeeg en versprei egalig tot 2 cm van die kante. Vou deeg aan linker- en regterkant oor vulsel en vou dan deeg naaste aan jou oor en rol op om ’n rolletjie te vorm. Plaas rolletjies met naat na onder op ’n gesmeerde bakplaat. Verf rolletjies met geklitste eier en strooi sesamsaad oor.
  6. Bak vir 30 – 35 minute totdat die deeg bros en gaar is.

WENKE

  • Dié rolletjies lyk soos Chinese rolletjies (spring rolls), maar dit word in die oond gebak en is ’n heerlike plaasvervanger vir gekoopte worsrolletjies, wat dikwels tot 30 g versadigde vet per rolletjie bevat.
  • Hoender-en-sampioenrolletjies smaak warm of koud ewe lekker. Dis ’n voedsame afwisseling in die kosblik, maar dis BAIE BELANGRIK om dit voortdurend goed verkoel te hou om voedselvergiftiging te voorkom.
  • Die rolletjies se GI = 62, maar dit kan tot 55 en verder verlaag word deur ’n porsie gebakte bone in tamatiesous (baked beans) en groenslaai OF ’n laevet- gegeurde jogurt en ’n vrugteporsie soos ’n appel by die maaltyd in te sluit.