Foto deur Micky Hoyle

Gebak

Hoender-fillodeegpakkies

(4 porsies, 4 pakkies)

Verhit oond tot 180 °C. Koop 1 gaar hoender, verwyder die helfte van die vleis en vlok dit. Verhit 15 ml olyfolie in ’n pan en braai 1 gekapte ui, 1 fyngekapte knoffelhuisie en 250 g strepiespek, in blokkies gesny, saam tot spek gaar is. Voeg 125 ml bevrore ertjies by en braai tot ertjies net ontdooi is.Voeg by gevlokte hoender en laat afkoel. Voeg 250 g crème fraîche by en meng goed. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Smelt 100 g botter. Neem een van 4 velle fillodeeg en smeer van die gesmelte botter bo-op. Vou die vel in lengte in die helfte. Smeer weer bietjie gesmelte botter bo-op. Skep vulsel in die middel en vou toe soos ’n pakkie. Plaas op gesmeerde pakplaat en smeer nog gesmelte botter bo-op. Maak nog 3 sulke pakkies. Plaas in warm oond en bak vir sowat 30 minute tot bros en goudbruin. Sit warm voor.