Foto deur Donna Lewis SARIE KOS Augustus/September 2014

Gebak

Hoender in rooiwyn

Dié klassieke Franse gereg staan bekend as coq au vin en dit was die groot veldheer Napoleon se gunsteling. Tradisioneel word dit voorgesit met hartvormige broodjies, glo omdat Napoleon se kok verlief was op hom.

Genoeg vir 8
• 45 ml kanola-olie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 250 g maer spek, in blokkies gesny
• 4 hoenderporsies (dye en boudjies), sonder vel
• 12 heel baba-uie, geskil
• 1 takkie roosmaryn, fyngekap
• 4 takkies tiemie
• 2 lourierblare
• 250 g bruin sampioene
• 500 ml rooiwyn
• 500 ml hoenderaftreksel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 4 snye 100%-rogbrood
• 40 g (45 ml) botter

Verhit oond tot 180 °C. Maak olie warm in groot oondvaste kastrol. Braai ui, knoffel en spek tot dit begin verbruin. Plaas hoenderporsies in pot en braai nog 5 minute of tot dit begin verbruin. Pak babauie, roosmaryn, tiemie, lourierblare en sampioene bo-op. Gooi wyn en aftreksel by. Geur goed met sout en peper. Bring tot kookpunt en plaas in warm oond. Bak 35 – 40 minute of tot hoender van die been wegtrek en ’n dik sous vorm. Gebruik hart-koekiedrukker en sny vorms uit brood. Smelt botter in braaipan en braai hart-broodjies tot goudbruin en bros. Sit hoender voor met gebraaide broodjies.

Ontleding per porsie –
kilojoules 1 715; proteïen 35 g;
koolhidrate 26,5 g; vet 28 g

Mariza sê Sit voor met gestoomde groente of ’n groenslaai.