6 uur tuis, eet half 7

Hoender-schnitzel met kapokaartappels

30 minute – 4 porsies

  • 4 ontbeende hoenderborsies, sonder vel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 3 eiers, geklits
  • 200 g broodkrummels
  • sowat 100 ml sonneblomolie, om die schnitzels in te braai

Draai die hoenderborsies toe in kleefplastiek. Slaan hulle lekker plat met ’n koekroller. Hulle moet heelwat groter en platter word. Geur elkeen weerskante met sout en swartpeper. Doop in die geklitste eiers en bedek goed met die broodkrummels. Doop dan weer in die eier en bedek nog ’n slag met krummels. Hou eenkant terwyl jy die olie in ’n pan verhit. Braai twee borsies op ’n slag. Jou olie moenie uitermate warm wees nie, maar die schnitzel moet begin braai sodra jy dit in die olie sit. Braai die schnitzels vir 5 – 10 minute, en draai om sodat hulle weerskante mooi bruin en bros is. Plaas op kombuispapier om van die oortollige olie ontslae te raak. Sit voor met kapokaartappels, vars roket en suurlemoen.