Hoenderpastei-baklava

FOTO Michael Le Grange

Gebak

Hoenderpastei-baklava

Ek is gek oor neut, en ook oor die Griekse nagereg baklava. Toe dag ek, hoekom nie ’n hoenderpastei met dié gunsteling kombineer nie. En dit het gewerk!

genoeg vir 10

VULSEL
• 45 ml botter
• 250 g bruin sampioene, in skywe gesny
• 2 gaar hoenders, fyngevlok
• 350 ml room
• 100 g okkerneute
• 100 g pekanneute
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 15 ml kaneel
• 5 velle fillodeeg
• 100 g (110 ml) botter, gesmelt
• 50 ml heuning
• 150 ml hoenderaftreksel
• 50 g (55 ml) botter

Verhit oond tot 180 °C. Verhit botter in ’n braaipan en braai sampioene tot goudbruin. Voeg hoender by en braai nog 5 minute. Gooi room en neute oor en laat stadig oop prut tot mengsel dik en romerig is. Geur goed met sout en peper. Voeg kaneel by en meng deur. Laat vulsel afkoel. Plaas een vel fillodeeg op werkvlak en verf met botter. Skep van hoendermengsel in lang wors op die langste sy van die deeg en rol die vel stewig op. Herhaal met oorblywende vier velle en vulsel. Pak hoenderrolle in oondbraaibak van 20 x 15 cm. Verf alles weer met oorblywende botter. Sny met skerp mes 5 diagonale snye dwarsdeur die neutrolle sodat dit diamantvorms maak. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin.

Terwyl hoender bak, kook heuning, aftreksel en botter saam vir 5 minute. Gooi oor pastei sodra dit uit oond kom. Sit warm voor.

Kyk HIER na die res van ons Kersfees-spyskaart