sk0907rugby07
Gebak

Hoenderpastei met spek

Eintlik ’n spek-en-hoenderpastei!

8 – 10 porsies

• sowat 30 ml olyfolie
• 3 pakke hoenderdye en hoenderboudjies (met 8 stukke per pak)
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 10 ml gemengde droë kruie
• 200 ml witwyn
• 2 lourierblare
• 30 ml olyfolie
• 3 pakke blokkies-spek van 250 g elk
• 1 ui, fyngekap
• 1 knoffelhuisie, fyngekap
• 30 ml mielieblom
• 30 ml water
• 2 velle (400 g elk) blaardeeg
• 1 geklitste eier

Verhit olyfolie in ’n groot kastrol en braai hoenderstukke tot bruin. Geur met sout, swartpeper en kruie. Voeg witwyn en lourierblare by en kook hoender tot gaar. Laat effens afkoel en verwyder vleis van bene. Hou sous van hoender eenkant. Verhit die ander 30 ml olyfolie en braai spek vir sowat 10 minute. Voeg ui en knoffel by en braai tot sag en deurskynend. Voeg hoender en sous by. Meng goed. As sous te loperig is, verdik dit so: Meng mielieblom met water en voeg by. Laat kook tot dik. Skep vulsel in ’n oondbak en laat afkoel voor jy die deeg bo-op sit. Verhit oond tot 180 °C. Sny lang stroke uit een vel blaardeeg. Plaas stroke om die rand van bak, bo-op hoender. Smeer stroke met geklitste eier. Plaas ander vel deeg bo-op. Sny kepe daarin sodat stoom kan ontsnap. Versier met orige deeg. Smeer met geklitste eier en bak vir 40 – 50 minute tot deeg goudbruin en bros is.

Om te drink
Pinot noir of gehoute chardonnay soos Fat Bastard Chardonnay (net meer as R40 per bottel).