Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 13/JAN 14

Gebak

Hoenderpastei op ’n nuwe manier

Gee dié Kers-gunsteling ’n nuwe baadjie, geskoei op die resep vir bief Wellington. Maak die hoender die vorige dag al gaar sodat dit koud is wanneer jy die pastei aanmekaarsit.

• sowat 100 ml olyfolie
• 8 hoenderdye
• 8 hoenderboudjies
• 60 ml worcestersous
• sap van 1⁄2 suurlemoen
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 3 lourierblare
• 125 ml witwyn
• 3 x 70 g-pakkies parmaham

Verhit oond tot 180 °C. Gooi helfte van olyfolie in groot oondbraaibak. Pak hoen- derstukke langs mekaar in bak. Gooi wor- cestersous en suurlemoensap oor. Voeg knoffel by en geur met sout en peper. Plaas lourierblare bo-op en maak bak toe met tinfoelie. Oondbraai 45 minute in warm oond. Haal tinfoelie af en voeg wyn by. Oondbraai nog so 45 minute tot mooi bruin. Haal uit oond en laat heeltemal afkoel. Verwyder vleis van bene en kap fyn. Meng sous in bak met koue fyn hoender. Plaas stukke parmaham dwars onder mekaar op ’n werkoppervlak sodat die stukke oorvleuel. Skep hoender in die middel van die parmaham af dat dit soos ’n lang dik wors lyk. Vou ham oor hoender en rol dit styf toe in kleefplastiek. Plaas in yskas vir minstens 4 uur of oornag. Maak nou die sampioenpatee, wat op die blaardeeg gesmeer word wat om die hoenderrol gedraai word.

Sampioenpatee

• 15 g (15 ml) botter
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 500 g sampioene, in skywe gesny
• 100 g gevlokte amandels
• 30 ml olyfolie
• 45 ml balsemasyn
• sout en varsgemaalde swartpeper

Smelt botter in ’n groot pan. Voeg ui, knoffel en sampioene by. Braai tot sampioene sag is en vloeistof in die pan weggekook het. Braai amandels in kleef- werende pan tot net bruin. Verpulp ge- braaide amandels, olyfolie en asyn in voedselverwerker tot glad. Voeg gebraai- de sampioene by en kap verder fyn. Geur met sout en peper. Haal uit en laat afkoel.

Sit pastei só aanmekaar

• 3 vierkantige velle blaardeeg
• 1 eier, geklits

Verhit oond tot 200 °C. Plaas twee velle blaardeeg langs mekaar op werkopper- vlak. Maak seker die velle oorvleuel in die middel. Verf met geklitste eier waar twee velle oorvleuel om seker te maak dit kleef aanmekaar vas. Smeer sampioenpatee op blaardeeg, maar hou ’n strook van 3 cm om die buiterande van die deeg skoon. Verf rande van die deeg met geklitste eier. Verwyder kleefplastiek van hoenderrol en plaas dwars op gesmeerde deegvelle. Vou rol heeltemal toe met deeg. Sny dik stroke van die derde vel blaardeeg. Verf die stroke met geklitste eier en plaas die geverfde kant bo-op die las van die rol. Plaas die gelaste kant na onder op ‘n bakplaat. Sny met ’n baie skerp mes ’n diamantpatroon bo-op die deeg, maar moenie dwarsdeur deeg sny nie. Verf deeg reg rondom met geklitste eier en plaas in warm oond vir 1 uur. Dit moet gaar en lekker bros wees. Sit warm voor.