FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Gebak

Jogurt-en-kruiebrood

Brood wat met jogurt gebak word, het ’n sagter en ryker tekstuur. Die brood bly ook langer vars danksy die ekstra vet in die jogurt.

genoeg vir 6 – 10

• 45 ml heuning
• 100 ml louwarm water
• 250 ml laktosevrye jogurt
• 60 ml kanola-olie
• 10 g kitsgis
• 500 g (890 ml) koekmeel
• 10 g sout
• 50 ml gemengde vars kruie (tiemie, origanum, koljander)

Plaas heuning, water, jogurt en olie in bak van elektriese menger. Voeg res van  bestanddele by en meng tot stywe, kniebare deeg vorm. Knie 5 – 8 minute of tot die deeg glad is. Plaas deeg in skoon bak wat met olie gesmeer is. Maak bak toe met kleefplastiek en laat rys 30 – 40 minute op warm plek tot dubbel in volume. Verdeel deeg in 12 porsies en rol in ronde balle met handpalms. Spuit ’n broodpan van 20 x 10 cm met kleefwerende kossproei. Pak rolletjies styf teenmekaar in pan en laat weer rys op warm plek tot dubbel die volume. Verhit intussen die oond tot 180 °C. Bak 25 – 30 minute of tot rolletjiebrood goudbruin en gaar is. Laat afkoel op afkoelrakkie en sit voor met goeie olyfolie en balsemasyn.