Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS AUG/SEP 2012

Gebak

Kaas-en-basiliesoufflé

Souffléis een van die mees klassieke Franse geregte. Dit is regtig nie baie moeilik om te maak nie: Jy maak ʼn witsous, voeg jou kaas of wat ook al by, en dan klop jy die eierwitte styf en vou dit in.

(genoeg vir 6)

baktyd: 20 minute

  • 250 ml melk
  • 20 ml botter
  • 30 ml meel
  • 3 eiergele
  • 100 g gruyère-kaas, fyngerasper
  • 5 vars basilieblare, fyngekap
  • sout en peper
  • 5 eierwitte
  • 30 ml fyn parmesaankaas

Verhit oond tot 200 °C. Verhit melk effens. Smelt botter in ’n diep kastrol en voeg meel by. Roer die mengsel tot dit ’n pasta vorm. Voeg melk bietjie vir bietjie by en roer goed. Haal kastrol van hitte af. Laat effens afkoel. Voeg eiergele een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Plaas terug op die stoofplaat en hou aan met roer tot mengsel verdik het. Haal af van hitte en voeg kaas en basiliekruid by. Geur met sout en peper.

Wenk
Jy kan in dié stadium die mengsel laat staan en dan kan jy die geklitste eierwitte invou net voor jy dit wil bak. Klits eierwitte styf en vou versigtig by kaasmengsel in. Skep in klein koppies of ramekin-bakkies, maar maak dit net ¾ vol. Sprinkel fyn parmesaankaas bo-op. Trek met ’n mes ’n sirkel teen die rand van bakkie of koppie om te verseker dat die soufflé mooi rys. Plaas koppies of bakkies op bakplaat en plaas in oond. Stel nou onmiddellik die temperatuur af na 180 °C en bak vir 20 minute. Haal uit en sit dadelik voor.

Om te weet
Wat is gruyère-kaas? Gruyère-kaas is ’n harde wit kaas en kom oorspronklik van Switserland, uit die dorpie Gruyères. Die kaas is effens sout, daarom is dit ideaal vir kook. Dit word veral in quiches gebruiks.