Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Gebak

Kaneel-en-karamelrolletjies

Die resep verg nogal  ʼn bietjie bakvernuf en geduld.
(Genoeg vir 10)
Baktyd: sowat 1 uur

Deeg

  • 2 pakkies (10 g elk) kitssuurdeeg
  • 250 ml louwarm melk
  • 2 eiers, geklits
  • 70 g (75 ml) gesmelte botter
  • 105 g (125 ml) strooisuiker
  • 5 ml sout
  • 700 g (1 250 ml) koekmeel
  • sonneblomolie vir smeer

Vulsel

  • 30 g (30 ml) botter, gesmelt
  • 105 g (125 ml) strooisuiker
  • 5 ml kaneel
  • 250 ml sjokoladesplinters

Karamelsous

  • 230 g (250 ml) botter, in blokkies gesny
  • 400 g (500 ml) ligte bruinsuiker
  • 65 ml goue stroop
  • 100 g pekanneute, grofgekap

Meng suurdeeg met louwarm melk. Laat staan sowat 10 – 15 minute tot gis begin werk. Meng eiers, botter, strooisuiker en sout. Plaas net 3 koppies van die meel in ’n mengbak. Maak holte in middel van meel en voeg suurdeegmengsel en eiermengsel by. Meng goed tot deeg vorm. Voeg nou nog meel by om ’n sagte deeg te maak – nog sowat 1½ koppies. Plaas deeg op meelbestrooide oppervlak en knie minstens 10 minute om die gluten in die deeg te laat ontwikkel. Smeer klein bietjie sonneblomolie in ’n groot mengbak en plaas deeg daarin. Smeer bietjie olie ook bo-op die deeg. Maak toe met kleefplastiek en plaas op ’n warm plek om te rys tot dubbel die volume. Die rysproses kan tot 2 uur duur. Verhit oond tot 180 °C. Wanneer deeg klaar gerys het, knie dit af. Rol uit op meelbestrooide oppervlak tot ’n reghoek van sowat 40 x 25 cm. Smeer met 30 ml gesmelte botter. Meng suiker en kaneel en sprinkel oor. Sprinkel sjokoladesplinters oor en rol op van die 40 cm-kant af. Dit vorm ’n lang wors. Sny in stukke van sowat 7 cm. Plaas in gesmeerde diep koekpan, so 3 cm uit mekaar. Laat weer sowat 30 minute rys. Plaas in oond en bak 45 minute – 1 uur. Maak intussen die karamelsous. Plaas botter, suiker en goue stroop in kastrol. Sit op lae hitte en roer tot suiker opgelos is. Laat prut tot dit ’n mooi karamelkleur het. Voeg pekanneute by. Wanneer die rolletjies gaar is, haal uit oond en gooi onmiddellik die sous oor. Laat staan in pan tot effe afgekoel. Keer versigtig uit.