Screen Shot 2016-05-20 at 8.03.41 AM
Gebak

Karamelrolkoek, sonder moeite!

My ma kan die beste rolkoek bak. Sy vul dit met geklitste room wat met ’n blikkie karamel-kondensmelk gemeng is.

Kleintyd was dit ’n groot bederf as sy dit vir vriende gebak het en sy die punte van die rolkoek netjies reguit afgesny het – dit was ons kinders se bederf om die afvalstukkies te eet.

My bakwenke vir rolkoek

1. Klits jou eiers teen kamertemperatuur, dit gaan meer skuim en die eindresultaat sal sagter wees.

2. Sif jou meel deeglik voordat jy dit invou by die eiermengsel. Daar word dan meer lug vasgevang in die beslag.

3. Maak seker jou doek is klam waarmee jy die koek gaan rol – ’n klam doek keer dat die rolkoek aan die doek vassit.

4. Laat die rolkoek heeltemal afkoel in die doek voor jy dit weer afrol om te vul.

Karamelrolkoek


genoeg vir 1 koek

• 5 eiers, geskei
• 200 g (250 ml) strooisuiker
• 140 g (250 ml) koekmeel, drie keer gesif
• 100 g neute, fyngekap
• 80 ml suiker
• 1 x 380 g-blik karamel-kondensmelk
• versiersuiker vir oorsif

Verhit oond tot 180°C. Klits eierwitte tot sagte punte vorm. Gooi helfte (125 ml) van strooisuiker geleidelik by terwyl jy aanhou klits tot blink en styf.

Klits eiergele in aparte bak met res van strooisuiker tot lig en skuimerig. Vou eierwit-mengsel by eiergeel-skuim in. Vou koekmeel in met metaalmes.

Voer bakplaat van 20 x 30 cm uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Skep koekbeslag in pan en smeer gelyk met slaplem-mes. Sprinkel neute oor.

Bak vir 15-20 minute of tot goudbruin. Plaas klam kombuisdoek op werkvlak en sprinkel 80 ml suiker oor. Keer koek uit op suiker en verwyder bakpapier. Rol stewig op met hulp van klam doek. Laat afkoel. Rol oop en smeer met kondensmelk. Rol op en plaas op opdienbord. Sif versiersuiker oor en sit voor.