FOTO Mickey Hoyle

FOTO Mickey Hoyle

Gebak

Karoo-lam-skenkelkerrie met geelrys en rosyne

Ek het grootgeword met kerrie met appelkooskonfyt in. En nes die Italianers kalfskenkels vir hul bekende osso bucco gebruik, gebruik jy lamskenkels vir hierdie gereg.

genoeg vir 4 – 6

• sowat 50 ml olyfolie
• 1 kg lamskenkels
• 1 ui, gekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 10 ml kerriepoeier
• 45 ml fyn appelkooskonfyt
• 5 ml borrie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 6 geskilde middelslag-aartappels

Verhit oond tot 180 °C. Verhit olyfolie in ’n groot oondkastrol. Sit lamskenkels in en braai tot mooi bruin. Voeg ui en knoffel by en braai tot ui sag is. Voeg kerriepoeier, konfyt en borrie by. Meng goed deur en geur met sout en peper. Voeg kookwater by tot die vleis net-net bedek is. Plaas deksel op en oondbraai 1 uur in warm oond. Haal uit en voeg aartappels by. Indien nodig, voeg nog bietjie water by. Maak kastrol toe met deksel en plaas terug in oond. Oondbraai nog sowat 1 uur tot skenkels sag en aartappels gaar is. Sit voor met geelrys en rosyntjies.

Geelrys en rosyntjies
• 250 ml witrys
• 3 ml borrie
• 125 ml rosyntjies
• sout

Plaas rys, borrie en rosyntjies in ’n kastrol. Bedek met water en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en maak kastrol toe met deksel. Laat kook tot rys gaar is en water verdamp het. Geur met sout.